Die dag van die hoefysterspykertang
Die jaar is 1964, die plek Malmesbury en dis Sondag van alle dae. Ek kyk in die lang gang af en die gepoleerde hout blokkiesvloer gooi eienaardige ligpatroontjies teen die wit gangmuur. Vanwaar die son vroegoggend deur oop kantoordeure sy lig gooi lyk dit soos vrolike ligfeëtjies, al dansend teen die muur. In amperse viering van nog ‘n mooi dag op die dorp.
Vanuit die groot stoel regoorkant die oop deur van die vertrek met die reuk van onsmettingsmiddels of soiets in my neus, kyk ek ganglangs na die deur wat regonder in die gang halfpad oop is. Iemand se kop word met ‘n verband toegedraai en die bebloede gesig van die man is alles behalwe ‘n mooi prentjie. Hy laat my onwillekeurig aan daai cowboy wat deur sy perd, in een foto boekie wat my neef by sy ouer broer gesteel het, tussendeur bloeddorstige Indiane gesleep is. Skrikwekkend, vernaam in die gemoed van ‘n kind wat besig is om te vrek van die tandpyn. Pyn wat nie meer van ‘n vasgebyte naeltjie op die tand en met die spoel van brandewyn wil weggaan nie. Dis reg, in my ma se wynrooi Baumans beskuitjieblik was altyd ook ‘n “halfjack” brandewyn, so tussen die verskeidenheid Lennons botteltjies, KPP poeiers, kasterolie, pleisters,watte en Sambuksalf. Met hierdie blik kon sy destyds vanaf ‘n kop tot maagseer behandel en ook ‘n koliekbaba laat deurslaap. Maar my generasie het nooit brandewyn gedrink op daardie brose ouderdom nie, ons is net gedoseër tydens sulke helings prosesse.
Die man onder in die gang, die een met die lapkop, begin ewe skielik skel. Vanwaar ek sit hoor ek dis Afrikaans maar opgedollie met ‘n paar woorde waarteen ek gewaarsku is. Natuurlik sou jou bek uitgewas word met blouseep en jy jouself ‘n helse loesing op die hals haal sou jy dit waag om te vloek. “Gaan die dokter peper in sy mond gooi?”, wonder ek en vir daardie oomblik is die tandpyn skielik draagliker. Die gedagte aan hoe daai peper gaan brand verdoof die pyn vir ‘n oomblik, maar dan skiet ‘n vlymskerp pyn soos ‘n Sumarai-swaard wat die lug klief iewers in my kop. Of altans dit voel eerder soos my brein.
Maar die dokter praat nie ‘n woord nie, kyk na hom vir ‘n oomblik van stille diagnose en en gryp hom met die vernyn van ‘n Kaapse kobra agter die nek en help hom orent. Die ou wil nog verduidelik oor hoeveel pyn hy het maar dis te laat. Hy verdwyn met die dokter uit my gesigsveld en ‘n klappende deur kondig sy vertrek aan. Straataf hervat hy sy tirade, buitekant die radarontvangs van die dokter maar ek kan nie hoor wat hy verder swets nie. So, my les in die uitspraak van verbode woorde is vir eers verby.
Ek hoor water loop en dan kom die dokter met sy witjas gang af in ons rigting terwyl hy sy hande met ‘n klein wit handoekie afdroog . “Môre Oom Ben”, groet hy my pa vriendelik en vryf oor my kort stoppelhare. Hy kan na my kant toe, “Hallo boetie. Waarmeë help ek vanoggend?” My keel voel ineens droog, nie dat ek van plan is om hom te antwoord nie. Buiten die pyn wat met sulke tussenposes vanaf die tand iewers in my brein vasskiet is dokters mos belangerike mense. Jy praat immers net met hul as jy gevra word na iets.
Maar Pa vat beheer van die situasie voordat ek iets kan uiter, “Nee jong, Alwyn se tande gee moeilikheid en ek wil hê jy moet net loer wat’s fout. Tandpyn, hy kla al vanaf laasnag” Pa glimlag selfversekerd en die goud in sy tand glim skalks.
“Nou maar ja kom ons kyk”, dokter Vermeulen staan nader met so ‘n klein spieëltjie en sy flitslig, die een wat hul altyd in jou ore en oë meë, ag sommer orals meë kan kyk.
“Nou toe maak lekker wyd oop dat ons sien”, die reuk van Old Spice laat my neus jeuk. Ek voel die koue van die vlekvrye staal spieel teen die hoek van my mond en maak wyd oop. Met sy wysvinger ingehak in my mondhoek kan ek nie juis anders as om wyd oop te hou nie. Ek knyp my oë styf toe en wonder of daar enige pyn op pad is want die steek pyn na my kop is nou erger as ooit. Dan laat los hy en ek maak my mond vining toe.
“Nee Oom daardie tand is vrot verby. So ek sal hom moet trek. Dis maar melktande, so die permanente knewels sit al diep in die kaste en is oppad” , hoor ek die dokter sê.
“Wat. Het ek reg gehoor, hy wil die tand trek. Net hier op die Sondag more”? dag ek by myself. Altyd geglo so iets klink meer na die nodigheid vir ‘n operasie met narkose en so meer. Dis immers Sondag en ‘n dag van rus. “Plaas laat ek eerder my bek gehou het en net harder op daai bittergat brand naeltjie gebyt het”.
“Nee, maar dokter weet seker beste, so ek dink trek maar”, hoor ek Pa sê. Ek loer versigting na sy kant toe waar hy by die lessenaar se punt sit. Dis ‘n bleddie groot stoel en van hier bo af lyk hy kleiner en die dokter ook. Laasgenoemde raak doenig by so ‘n wit kassie, amper nes ‘n skeerkassie maar sonder ‘n spieël. En wragtig daar kom so ‘n blink inspuiting, die tipe met die glas openinge teen die kant, met naald en al te voorskyn.
“Ek gaan daai tand gou net doodspuit en nog so paar wonde verbind aan die kleurling kant en dan trek ons hom. Wat is dit met die volk wat Saterdagaande so suip en mekaar dan half doodmaak Oom Ben?”
“Nee dok, so gemaak en laat staan.” , hoor ek pa sê. Dit terwyl die dokter die inspuiting volmaak uit so ‘n klein botteltjie. Onder in die gang deur die oop deur sit ‘n antie wat nie te gesond lyk nie. Sy kyk so elke nou en dan skalks na my en dan weer weg. So asof sy weet wat op my wag en eerder haar deernis vir haarself wil hou. Ek besluit dis die tyd om oë toe te maak, in so ‘n geval is donkerte immers beter as lig. “See no evil............just do it.”
“Maak gou weer oop boetie dan spuit ek die tandjie dood” , ek skrik half as die dokter ewe skielik praat en sien hy staan reg met die naald. Weer wyd oopmaak en dan voel ek die prik. Ek wil my mond toemaak maar daai wysvinger is weer in plek. Sy vingers druk teen die hoek van my mond en ek voel hoe soek hy waar om die naald in te druk. Nes ‘n jagter soek hy sy prooi, nog ‘n prik. So ‘n branderige pyn ontplof iewers in my mond maar met die tand se seer kan ek nie besluit wat is die seerste nie. Dan is dit genadiglik verby en ek kan weer kake sluit. Ek voel ‘n traan loop onbeheersd oor my wang en vee dit half skelm af. Ek kyk vir pa maar hy het niks gesien nie, ook nie dokter nie want hy is doenig met sy spuitnaald daar voor sy wit kassie.“ Nou toe, ek’s nou weer terug. Laat daai tand net eers bietjie doodraak” , en met dit is hy by die deur uit en stap “gierts gierts” die gang af na die antie wat nie lekker lyk, se kant toe.
“Hoe voel jou mond nou?” , vra Pa. Hy kyk na so ‘n gipswit model van ‘n menslike torso in deursneë met binnegoed wat lyk asof dit gaan uitval. “Beter” , is al wat ek aan kan dink en uitkry.
Ek kyk ook na die model in sy hand en wonder of ek ook soiets van binne lyk. Hy plaas die beeldjie terug op die lessenaar vou sy hande en fluit Suikerbossie saggies. Die gefluit laat my sommer meer gerus voel, musiek het sederdien daardie effek op my, en ek ontspan ietwat. Ek sluk stadig en dit voel kompleet of ek ‘n stuk sawwe klei in my kies het en die ding raak al hoe groter. Ek probeer my tong teen die klei druk maar kry dit nie reg nie. Ek maak my oë weer toe en voel ewe skielik kommervry. Daardie “what be must be” gevoel wat ek daarna meer gereeld begin kry het. My oomblik van selftevredenheid is net besig om in te skop as ek weer daar “gierts gierts” geluid van die dokter se Bata Toughies in die gang hoor aankom.Deur skrefies oë sien ek hom aankom en ek probeer verby hom kyk na die oop deur agter hom. Die antie is nie meer in die stoel nie, so hy het haar seker uitgesorteer. Met ‘n, “Nou toe laat ons kyk of ons daardie tand kan trek,” kom hy selfversekerd die spreekkamer in en stap na dieselfde skeerkassie met glasdeurtjies. By nou is my oë oop, ek wil mos sien wat hy daar uithaal. Sien hoe die ding lyk wat verligting gaan bring. Ek sien hom ‘n groot verchroomde tang uithaal wat amper lyk soos pa se tang, die een waarmee hy spykers uit perdehoewe uit getrek het, as hul die beslaan het. Pa sit so bietjie vorentoe op sy stoel, altyd ‘n oog vir ‘n goeie stuk gereedskap gehad, en reken, “ Ja nee dok met daai ene kan mens hoefysterspykers ook trek.” Weet nou nog nie wat ek van daardie opmerking moet dink nie, dalks kon pa my gedagtes lees. Miskien was dit ook maar net sy subtiele manier om my kommer te sus. Die dokter kom staan teenaan my by die stoel. “OK boetie maak vir ons oop laat ons sien”.Ek maak my mond, wat by nou nie meer voel of dit myne is nie, stadig oop en voel hoe my oë terselfdertyd sluit.
Vanaf daardie oomblik was alles bietjie onduidelik. Dis immers twee-en vyftig jaar later, verdomp. Maar nou ja, toe hy daai tand met die hoefysterspykertang vat toe weet ek daar kom ‘n ding. Daar was so ‘n kortstondige kraakgeluid, nes die vloerplank in my kamer voor my bed maak voordat ek inklim. Die pyn wat daarmeë gepaard gegaan het kan ek vandag nie meer onthou nie. Nie onthou soos seker vrouens wat vandag nog met smaak en byklanke kan vertel, hoe seer dit was toe hul veertig jaar gelede geboorte gegee het nie. Maar miskien kan mens hul glo. Immers al baie ervaar hoe goed die geslag se geheue is. Vernaam as dit iets tragies was of jy iets slegs aangevang het. Hulle sukkel egter maar met die goeie, vernaam om dit te onthou.
Al wat ek weet, let wel nie kan onthou nie, is dat my mond nie heeltemal dood was nie en dit donners seer was. So seer, dat ek eers weer op dertien dit by ‘n tandarts gewaag het. Die was net so ‘n slegte ervaring want hy het die woord “perdedokter” gestand gedoen. Sal maar nie sy naam noem nie, mens moet immers respek vir die dooies hê. Nes die respek wat ek vir goeie tandartse en ander professionele mense het. Dit, totdat ek dokter Karl Rhode in die Paarl ontmoet het, ‘n ware tandarts. ‘n goeie tandarts wat gesê het, “‘n Goeie tandarts is een.................wat jou nie seermaak nie.” Skoenmaker hou jou by jou lees, dokters moet eerder nie tande trek nie, nes skoenmakers.