top of page

Rooikappie voer die Wolf

So baie maal hoor en lees mens van omkopery, die sogenaamde “bribe” en dink baie maals dit gebeur iewers in ‘n rokerige vertrek of agter geslote deure. Maar gister kon ek sweer ek het so ‘n transaksie in die strate van die rustige ou see dorpie waar ek al vir bykans tien jaar woonagtig is, beleef. Ek glo die eerste “bribe” waarvan ek kennis geneem het was moontlik die geval van Esau en die legendariese pot lensie sop. Daar is die wat reken dat dit ook die ene was wat vir al die ellende gesorg het waaroor Israel en die Palestyne vandag nog baklei. As die pot lensie sop raar klink kan mens maar net gaan kyk na al die ander gevalle waar daar met kos ge-“bribe” word. Op die dag was dit weer so ‘n geval, want iemand was honger. Hongerder as die plig om iemand wat die wet oortreë te beboet of die reg sy gang te laat gaan. Sit die

middag by my gunsteling restaurant op die stoep en drink heel moontlik my tiende bier van die jaar. Lieflike middag en die uitsig vanaf die stoep is prentjie mooi, ‘n amperes stel vir ‘n konsert. En waaragtig, sien ek die modern weergawe van Rooikappie. Maar die slag met drie honger wolwe en hulle eet haar nie, sy gee hulle iets om te eet. Gevaar afgeweer en die wolwe vertrek druipstert maar darem met vol magies.

Die munisipaliteit is besig om ‘n gedeelte van ons hoofstraat op die see front af te blok vir gisteraand se kerk bazaar. Dit sodat die jeug met hulle “skate boards” in die straat oor al wat hindernis kan spring en met die genade nie hulle knieë oopval. Dwars in die hoofstraat, reg teenaan die padblokade staan ‘n silwer Porsche Boxter onwettig geparkeer en die munisipale voertuie kan nie vrylik verby die opgerigte struktuur kom nie. Ek wonder by myself wie nou so arrogant en onbedagsaam is om die pad te blokkeer en ook die rede. Is dit maar hoe Porsche bestuurders dink? Hier in ons dorpie sien mens baie maals mense wat aan die verkeerde kant van die pad parkeer, so asof hulle in Amerika is. Miskien gee die dorpie mense daai gevoel, dat hulle iewers oorsee is, vandaar die rare verskynse? My gedagtes was skaars koud of drie wolwe daag op in hul Chevy Cruz en parkeer langs die Porsche. Flitsende ligte op die dak, spring die drie uit en bekyk die silwer plat karretjie vanuit alle hoeke. Hulle lyk erg onhuts en duidelik ongelukkig oor die onwettige parkering.

Met die gewaar ek vir Rooikappie wat aangehuppel kom vanaf die stalletjies op die gras reg oorkant die pad. Sy trippel heel selfversekerd onderkant my verby met haar knie hoogte steweltjies en serpie om die nek. Geen teken van ‘n mandjie of enigiets ter aanduiding dat sy dalks oppad is na haar ouma nie. Sy trippel verby die Porsche en kyk die wolwe so half uit die hoogte aan en verdwyn uit sig. Na ‘n wyle kom sy weer verby en stap na die een stalletjie waar sy gesels en ditjies en datjies kwyt raak. Die volgende oomblik stap sy met netjies afgemete treë tot by die Porsche en klim in. Die wolwe sien die prooi en bespring haar met mening, maar o weë……………….hulle het nie rekening gehou dat die Rooikappertjie van Kaapstad kom nie. Haar bedingingsvermoë en onderhandelings tegniek het sy moontlik iewers op ‘n vroue forum of sake kamer vergadering aangeleer. Sy oortuig die wolwe dat sy maar aan die maer kant is en nie vullend genoeg vir die drie sterk wolwe is nie. Die boete boekie verdwyn in die proses en die wolwe lyk ineens nie meer so onhuts nie. Sy draai die Porsche en ry padaf terwyl die wolwe haar agterna kyk. Dag ek by myself, “ Is dit die steweltjies of die Porsche”? Was dit nou ek, het ek seersekerlik ‘n duisend rand plus boete gekry.

Vyf minute later verskyn Rooikappie weer te voet en die wolwe sluit by haar aan. Hulle stap na die stalletjie en hulle honger en dors word gestil sonder dat daar enige geld hande verwissel. Hulle smul te lekker terwyl Rooikappie hulle geselsskap hou. Met hulle mae vol en hul dors geles klim hulle in die Cruz en ry weg. Die ou wat langs my sit en ook die ding aanskou het sê, “ Was dit nou ‘n “bribe of wat”? Ek kon sweer dit was maar sê toe maar, “Nee my ou maat, ‘n fairy tale”


bottom of page