Pyne met die treine
In vandag se koerante lui die opskrifte weereens, “Pyne met die treine”. Lyk my hulle kan maar net nie die ou stelsel kry dat dit glad werk vir ten minste ‘n paar maande nie. Ek het natuurlik soos baie van my tydgenote groot geword met die ysterperde van toeka se tyd en het as jonk knaap verwonderd gestaan as die groot swart swaar masjiene al blasend en stommend met daai onmiskenbare ge- “pof pof pof paf” al stomende die platform verlaat. Later van jare is die ou stoomlokomotief met die elektriese eenheid vervang wat stil en bykans geluidloos, net met ‘n ge-“klik klak” oor die treinspoor beweeg het. Ook om mettertyd met raserige diesel eenhede opgevolg te word wat al bulderend van vêraf aangestotter gekom het om met ‘n oorverdowende lawaai die stasie in te trek. Nie so amper simfonies en orkestraal soos die ou stoomeenhede van ouds nie.
Treine is vir my nostalgias en daar is soveel mooi liedjies al geskryf oor die tema. Ek dink hier sommer net aan die “Sewe af” van Valiant Swart en ook “Transkaroo”. Baie van Gert Vlok Nel se inspirasie kom moontlik ook maar vanaf sy blootstelling aan treine in Beaufort-Wes. " Pennies op die spoor" laat my dink aan die dae op Tulbag stasie toe ek een sent munte op die spoor gesit het en gaan wegkruip het net ingeval die trein ontspoor. Later het ek die klein platgetrapte stukkies brons gaan optel en Jan Van Riebeeck se kop was die ewigheid in gepers. Ekself kan nog onthou hoe die klank van treine wat rangeer onder in Malmesbury se stasie my as kind aan die slaap gesus het. Op warm somersaande met my kamervenster opgeskuif, ja ons kon met oop vensters slaap, kon ek die soet reuk van kaikiepiering ruik en na die treine luister. Vandag is dit grafstil saans, met die uitsondering van ‘n polisie sirene. Die manne in blou iewersheen oppad na ‘n misdaadtoneel of sommer net sjebeen toe.
In my kinderjare het ons baie Kaap toe gegaan met die trein. Die passasierswaens was nog die houtplankie tipe met die groen leer sitplekke, goedgekeur deur die destydse Minister van Vervoer ene Ben Wielietjies. Ons is vanaf Malmesbury vir die bykans twee uur trippie deur Kalbaskraal en het aansluiting by Kraaifontein gekry. Daarvandaan met die elektriese trein na die Kaap. Ek kon my altyd verkyk aan die Stasiemeesters, hulle was stoere mense met baie gesag en in ‘n dorp soos Malmesbury net duskant die burgermeester op 'n skaal van belangerikheid. Want sien as hierdie ou gepraat het, het almal geluister. Amper soos die anus wat vir die maag gesê het, “Luister vir my want ek is die belangerikste, as ek staak is almal in groot bollie.” Hierdie Stasiemeesters het alles met ‘n ysterhand
regeër en stasie geboue en eiendom was in top kondisie gehou. Hulle het gepraat van “hulle” stasies en “hulle” treine as hy so skalks na sy silwer sakhorlosie loer, net om te sien of als nog volgens plan en op tyd loop. Die mense was werkstrots en het dinge laat werk. As “hulle” treine laat was, was dit soos om voor ‘n vuurpeleton aan te treë. Vandag sit daar verveelde en degemotiveërde staats amptenare wat nie een in bevel is nie en derhalwe vere voel. Die top amptenary kry topgeld maar doen weinig om prestasie te verseker. Hulle kyk vir mekaar en wonder wie gaan wat doen en wanneer. Almal te bang om beheer te neem oor een van die waardevolste goed in ons geskiedenis.
Ons het baie trein gery, op vakansie en sommer army toe ook. Dan was daai klein vleklose wasbakkie in die kompartement met ys gevul en die Coke koud gehou net vir ingeval ons die Karoo slaan en man wil mos nou nie ‘n warm dop drink nie. Die einste Karoo wat net so koud kon raak soos die keer wat ek en Cobus van der Colff vanaf Pretoria na die Kaap met die einste trein gery het. Toe ek met my babalas lyf besluit het dat ek die R4 van die beddegoed kaartjie wou spaar en die heel nag bibberend in die kajuit gelê het met die verwarmer volstoom. Die eetwaens het die mooiste dik wit gestyselde damask tafeldoeke gehad en alle eetgerei was Sheffield silwer. Ek het soos ‘n koning aan tafel gevoel as jy boonop nog deur ‘n kelner in ‘n netjiese swart tweestuk met ‘n strikdas bedien word. Meeste van die ouens was daai dae al maar bietjie “skeef”, vandag sogenaamde “gays”, maar hulle was erg professioneël en uiters behulpsaam en hoflik. Ek dink nog baie aande aan my dae op tech in die Kaap. Op Vrydae het so ‘n groepie studente by die Tulbagh Hotel se dameskroeg vergader en vir die “peak traffic” gewag om te wyk voor nog 'n bier. Ek en Michael Docherty het rustig agteroor gesit en eers so agtuur Kaapstasie ingevaar. Hoekom mag jy wonder. Want dan het die Trans Karoo Johannesburg toe getrek en ons het hom gevang via Muldersvlei na die Paarl. In daardie trein se kroeg wat ook lugversorg was het ons menigte aande so “sit sit so” Paarl toe gery en eers halftien daar aangekom. Wat ‘n ervaring, ek proe nou nog daai Coke uit die klein lig groen glasbotteltjies.
Hierdie treine van ouds was gedugte vervoermiddels en baie vriendskappe is ook op hulle gesmeë. Ek het sovele interessante mense ontmoet en ons het gekuier en tot laat nag op die ge- “Klik klak” gefilosofeër, geredeneer en ook gedroom. Maar nooit het enige van ons gedag dit sou die laaste wees in ‘n era van treine nie.