Bring my terug na die..........ou Hotel
Vandag werk ek so bietjie deur fotos en kom om op ‘n klomp af wat ek by die Belmont Hotel ‘n paar jaar gelede geneem het. Dit neem my terug na baie jare gelede en kuiers in die Dennebos in Ceres. Dit was ‘n ongelooflike mooi ou hotel wat in die skadurykste gedeelte in Ceres geleë was. Dit het ook die mooiste klein private dieretuin gehad met verskeie voëls , klein diersoorte en ook die bekende bloubal ape. Laasgenoemde is gewoonlik vetgevoer deur verbygangers aan enigiets, vanaf ma se toebroodjie met eier en mayonnaise op tot die grootste vermaak, ‘n taai Wilsons toffie. Die ongeloof oor die taaiheid van so ‘n toffie kon tot op die aap se gesig gesien word.
As jy by die ingangs portaal ingestap het, het die mure met jou begin praat en die karakter van die plek jou aangegryp. Die swaar gordyne en dik matte het iets gesê van die gebou se verlede. Toe ryk boere en suksesvolle sakemanne onder die koel plafon met sy ou dakwaaiers op warm dae in die Bolandse dorpie koelte gesoek het en hulself in die kroeg met ‘n koue bier kon lawe. Toe was kroeë buite perke vir vrouens en moes hulle in die aangrensende “ladies bar” of sitkamer sit. Vele stories moes hul deur die jare in die pleister van die ou mure tuis gemaak het. Stories van lief en leed en seersekerlik ook baie skinder en liegstories. Hier het groot manne hulle toekoms beplan oor die rand van ‘n glas en soms ook hulle glase vol gehuil as dinge skeef geloop het of hulle vrou met die dominee weggeloop het.
Die kroegman was almal se pêl en met die gebruiklike “Barman gooi daar nog ‘n doppie, ene vir die pad” het hy sy kliënte bederf. Hy het elkeen by die naam geken en met sy standaard Bryl Cream haarstyl het hy na enige stront storie geluister en dit beaam. Uit absolute hoflikheid natuurlik, dis immers ook hoekom hy daar was. Manne kon bieg teenoor hom en hom belaai met die mees intiemste en vertroulike inligting en hy sou dit meer geheim hou as Nasionale Intelligensie. Hy was uiters profesioneel en het alles vir homself gehou sonder om die Eed van Hipokrates af te lê. Sy lippe was geseël soos 'n goeie bottel sjampanje. Hy was die gewone mens se dokter en het die medisyne gegooi vir enige pyn, skeet of kwaal. As drank nie jou ding was nie kon jy op die stoep of in die sitkamer gaan sit met die koerant en ‘n “passion fruit en lemonade” drink. Etenstye was ook iets uit die boonste rakke. By hierdie ou hotelle van toendertyd was drie maaltye ‘n dag bedien. Jy hoef nie daar te gebly het om daar te kon eet nie. Nee wat, as jy die dag windgat gevoel het en nie lus was vir ‘n “pub lunch” nie kon jy by ‘n silwer gedekte tafel met wit gestyfde damask tafeldoeke gaan sit en ‘n vyfgang maaltyd eet vir minder as wat ‘n tydskrif vandag kos.
Nou is meeste van hierdie ou hotelle al gesloop of net geraamtes het oorgebly, meeste gepak met Nigeriërs of boemelaars wat dit bewoon sonder krag of rioelering. Die geute het lank gelede afgeval en as dit reën maak die inwoners hulle slop emmers in die privaatheid van hul kamers vol. Hierdie plekke is vir “pubs” en “clubs” veruil waar jong snuiters jou deesdae bedien terwyl hy op sy selfoon “mix” en ‘n kaart probeer “swipe” waarop geen fondse meer beskikbaar is nie. Die dae toe kontant geseëvier het is verby, toe jy ‘n vyftig rand op die kroeg toonbank kon neersit en nog ‘n rondte of twee vir jou vriende kon koop. Nou moet ons op krediet drink want al die blink en stink van die plekke kos geld en die huur is hoër as Tafelberg in hierdie koue besigheidssentrums. Die plekke het geen karakter meer nie, nog minder die “locals. Die kos is ‘n skrapsie beter as die ouens wat daai burgers maak met “patties” so dun dat hulle sommer vanaf hulle hoofkantoor in Amerika ge-“fax” word. Ons het inderdaad goud vir silwer geruil waar ons drome vervaag het tot niks.
Malmesbury my ou geboortedorp het die Swartlander gehad, die lieflikste hotel bestuur deur die Brinks. Hier het ek in die snikhete somers die lekkerste suur wyn gedrink onder daai ou wingerdprieël in die tuin. Natuurlik skelm saam met ou Steven Lategan en sy broers terwyl ons ‘n kreef “trip” Yzerfontein toe beplan. In die Paarl waar ek “groot” geword het was baie hotelle en ek onthou meeste van hulle met heimweë. Die Central, ook liefderyk na verwys as die Tril, is nou ook al jare gelede gesloop. Daar het ons baie maals gekuier tot die dood intreë en met interskole in die sewentigs het ons die “lounge” geannekseer. Al was jy nooit in Boys High of Gim nie was jy daar meer welkom as by jou eie huis. Op ‘n naweek, voor of na fliek, het ons daar vergader en op die lang stoep gesit en gesels. Vandaar kon jy ook sommer sien wie in die dorp was want almal het daar verbygery. Die Adelaar onder in die dorp was ons Vrydag middag “hang out” waar baie naweek en vakansie planne gesmeë is en al die “heavy weights” van daardie jare uitgehang het. Die koop van menigte enjin, bike of kar is hier oor die toonbank beklink. Ronnies bietjie laer af in Lady Grey, net voor mens oor die treinbrug gaan, was ons “sports pub” van daardie tyd. As die Bek van Boomstraat die aand teen Handjies Coetzee boks was dit ons bymekaarkom plek. Hier het ons gehuil van die lag as ou Mike besluit hy knie sommer vir Gerrie uit die kryt en Jimmy Abbot moer vir Kallie en die volgende dag sommer sy pa ook. Die International Hotel was ons “jive” hotel en Saterdag aande was ons vir die disko soontoe. Hier het menigte verhoudings net tot voor middernag gehou as gevolg van onbenullige meningsverskille. Die een het te min en die ander te veel gedrink, of so iets. Laaste maar nie die minste nie was die Picardi in die goeie gedeelte van die dorp. Heelwat “lanierig” as die res en die lounge het die dikste rooi mat gehad in daardie tyd. Altans die dikste wat ek ooit op geloop het. Die restaurant was uit die boonste rakke en die diens ongelooflik. As jy daar gesit het met ‘n dubbel rum en Coke kon jy vir ‘n oomblik sweer jy’s Jan Pickard.
Die hotelle van daardie jare was bymekaarkom plekke vir almal in die gemeenskap en is nou vervang deur glansgeboue wat bedryf word deur groot hotelgroepe.Die nuutste een is die “boetiek hotel”, net vir die rykes en “society”. In Hermon staan daar nog ‘n ou hotel waarvan die mure praat en jou stories vertel. Stories wat ek nog kan onthou. Miskien nie so luisterryk soos die Eagles se Hotel California nie en ek haal aan,
Mirrors on the ceiling,
The pink champagne on ice
And she said 'We are all just prisoners here, of our own device'
And in the master's chambers,
They gathered for the feast
They stab it with their steely knives,
But they just can't kill the beast
Die plebs gaan nou “pub” toe, sommige soek na Hotel California en die res soos ek bly by die huis………..of ry Hermon toe.